Celeste is in Namibië gebore en het tussen Namibië en Suid-Afrika grootgeword. Sy het van kleins af geweet daar is meer om te sien, meer om te ontdek. Groot lees van ’n klein dogtertjie af, het nuwe wêrelde vir haar oopgemaak, en sy het altyd geweet sy sou eendag nie vir altyd in een plek bly nie.
Haar pa wou nie haar passpoort geteken het nie so sy moes wag voordat sy 21 geword het voordat sy kon aansoek doen. Hy het geweet dat die oomblik wanneer sy haar vlerke kry, sy waarskynlik sou gaan. Hy was reg. Skaars 21, het sy self haar paspoort bekom en van daardie oomblik af was die pad oop.
Weggaan het ’n prys gehad. Een van die beelde wat haar bybly, is dié van haar pa by die lughawe in Windhoek, wat gedink het sy sien hom nie, terwyl hy in die kar sit en huil. So ’n oomblik bly ’n mens by, want wanneer ’n mens ver weggaan, neem jy nie net jou bagasie saam nie — jy neem mense saam.
Vir Celeste is kommunikasie een van die belangrikste lesse uit haar reis. Wanneer twee mense saam deur ’n groot verandering gaan, kan stilte swaar begin weeg. Daarom is oop en eerlike gesprekke nie net belangrik nie — dit word ’n manier om mekaar te verstaan en te steun.
Celeste praat eerlik oor die dinge wat ons soms vir die mense by die huis wegsteek. Die goeie stories kom makliker oor die telefoon. Ons wil nie hê hulle moet bekommerd wees nie. En tog is daar dae wat swaar voel, waar ’n mens net jou eie mense, jou eie taal, jou eie strand wil hê. Selfs klein goedjies, soos die soektog na ’n plaasvervanger vir Ina Paarman se garlic pepper, kan jou skielik laat besef hoe diep huis in jou leef.
Ten spyte van die uitdagings, is Celeste se antwoord eenvoudig: ja, sy sou dit weer doen. Soos sy dit self beskryf: “Ons het nie geweet wat ons nie geweet het nie.” Want elke plek, mens en ervaring het iets nuuts geleer — oor die wêreld, oor ander, en oor haarself.