Die gesprek begin lank voor die tasse gepak word en vir ’n volwassene begin emigrasie dikwels by ’n geleentheid maar vir ‘n kind begin dieselfde besluit op ‘n heel ander plek. Miskien is daar vrae soos:
Wie gaan langs my sit by pouse?
Kan my hond saamkom?
Wanneer sien ek Ouma weer?
Volwassenes praat makliker oor die nuwe werksgeleentheid, beter veiligheid posisie, finansiele redes en miskien ‘n meer standvastige toekoms maar kinders se verbeelding is steeds klein genoeg om net te wonder wat gaan van die al die mense in hulle “ou” wereld word.
Dit is waarom die gesprek oor trek nie bloot ’n aankondiging behoort te wees nie. Dit moet ’n gesprek wees wat oor dalk weke, maande en soms lank ná die verhuising voortgaan.
Moenie die trek probeer verkoop nie. Wanneer ouers onseker of skuldig voel, is daar ’n versoeking om die trek voortdurend positief te bemark met voorbeelde soos:
“Jy gaan soveel nuwe maats maak!”
“Jou nuwe skool gaan ongelooflik wees!”
“Dit gaan ’n groot avontuur wees!”
Maar jou kind weet ook wat verloor word en wanneer ons net die mooi kant beklemtoon, kan ’n kind begin wonder of hulle hartseer beteken hulle is ondankbaar. Gee eerder toestemming vir twee dinge om terselfdertyd waar te wees. Gedagtes soos “Ons kan opgewonde wees oor wat kom, én hartseer wees oor wat ons agterlaat.” kan ruimte skep en dit is presies wat kinders tydens groot verandering nodig het. Ruimte
Child Mind Institute beskryf verhuising en skoolverandering as werklike stresvolle lewensgebeure vir kinders. Hulle beklemtoon dat ouers kinders se gevoelens ernstig moet opneem, openlik daaroor moet praat en self gesonde maniere van stresbestuur moet modelleer.
Vertel die waarheid wat hulle ouderdom kan dra. ’n Vierjarige het nie ’n bespreking oor belasting, visums en loopbaangeleenthede nodig nie. ’n Tienjarige wil dalk weet hoe die nuwe skool lyk, of sport dieselfde werk en hoe gereeld hy sy maats sal kan bel.
’n Tiener kan reeds baie dieper vrae hê: Hoekom kry julle die reg om my hele lewe te verander? Wat van my vriende? My matriek? My verhouding? My identiteit?
Moenie elke ouderdom dieselfde antwoord gee nie maar probeer dat elke antwoord waar is.
As jy iets nie weet nie, sê “Ek weet nog nie presies hoe dit gaan wees nie. Maar sodra ek weet, sal ek jou vertel.” Dit bou meer vertroue as ’n belofte wat jy nie kan waarmaak nie. Gee hulle ’n stem, sonder om die besluit op hulle skouers te sit. Daar is ’n groot verskil tussen “Wat dink jy van die trek?”en “Moet ons trek?”
As die besluit reeds deur die volwassenes geneem is, moenie ’n kind verantwoordelik laat voel vir ’n besluit wat hulle nie werklik kan verander nie maar binne die besluit is daar baie dinge waaroor hulle wél ’n stem kan hê. Voorbeelde hiervan kan soos volg wees:
Hoe wil hulle van hul vriende afskeid neem?
Wat moet eerste in hul nuwe kamer uitgepak word?
Watter foto’s wil hulle saamneem?
Dit gee ’n kind ’n klein hoeveelheid beheer binne ’n situasie waar baie dinge buite hul beheer verander en maak behoorlik klaar met die ou lewe. Moenie net weggaan en nie afskeid neem nie.
Wees intentioneel met die “huis” wat julle agterlaat en gaan dalk nog een keer na die gunsteling park. Daar is ’n vreemde idee dat afskeid hartseer veroorsaak maar die hartseer reeds daar en ’n goeie afskeid gee net vir daardie hartseer ’n plek om te gaan.
Hou sekere dinge doelbewus dieselfde en vir kinders word veiligheid dikwels in klein, herhalende dinge gevind. Dieselfde slaaptydstorie, sagte speelding, Afrikaans om die etenstafel.
Child Mind Institute wys daarop dat voorspelbare roetines en vooraf waarskuwing oor verandering kinders kan help om oorgange makliker te hanteer. Hierdie gewoontes lyk klein maar vir ’n kind wat amper alles om hom sien verander, sê dit dat party dinge is nog ons s’n.
Wanneer jou kind tussen kulture begin grootword word daar met tyd besonderse nuwe dinge ervaar. Sy aksent verander. Hy of sy verstaan plaaslike grappies wat jy nie verstaan nie en hulle begin gemakliker voel in ’n kultuur waarin jy steeds ’n buitestander voel.
En dan kom die ingewikkelde vraag: Waar behoort my kind eintlik?
Kinders wat oor verskillende lande en kulture heen grootword, word dikwels as Third Culture Kids beskryf. Die Amerikaanse Psychological Association se multikulturele riglyne wys daarop dat sulke kinders besonderse transnasionale ervarings het, maar ook soms verlies, isolasie of vrae oor identiteit en behoort kan beleef. Die antwoord is nie om jou kind te dwing om te kies nie. Hulle hoef nie minder van die nuwe plek te wees om steeds aan Suid-Afrika verbind te wees nie en hulle hoef nie minder Afrikaans te wees omdat hulle nog ’n taal begin liefkry nie.
’n Onlangse Afrikaanse emigranteverhaal beskryf juis hoe ’n gesin Afrikaans doelbewus deur stories, familie, musiek en gewone daaglikse gebruik behou het, sonder om die kind se integrasie in haar nuwe land te beperk. Dit is dalk een van die mooiste geskenke wat ons vir derde-kultuur-kinders kan gee: Nie ’n keuse tussen twee wêrelde nie, maar toestemming om albei te dra.
Jy hoef nie ’n groot “familievergadering” te hou nie. Begin in die kar. By slaaptyd. Terwyl julle ’n boks pak.
Vra:
Wat is die ding waarna jy die meeste uitsien?
Wat wens jy hoef glad nie te verander nie?
Wie gaan jy die meeste mis?
Wat wil jy beslis saamneem?
Wat dink jy gaan vreemd wees?
Wat maak jou bang?
Hoe kan ons jou help om kontak met jou vriende te hou?
Wat van Suid-Afrika wil jy altyd deel van ons huis hou?
Wat wil jy graag van ons nuwe land leer?
En miskien die belangrikste een: “Is daar iets waaroor jy bekommerd is wat jy dink Mamma of Pappa nie wil hoor nie?”
Dan luister jy.
Nie om die gevoel weg te praat nie maar net om daar te wees en ná die trek met die gesprek aanhou te hou. ’n Kind wat aanvanklik opgewonde was, kan maande later sukkel en ’n kind wat die eerste week gehuil het, kan drie maande later blom. Aanpassing volg nie ’n kalender nie.
Let daarom op veranderinge wat aanhou en die kind se gewone funksionering begin beïnvloed — byvoorbeeld erge of volgehoue angs, groot veranderinge in gedrag, aanhoudende probleme met slaap, skoolweiering, isolasie of ’n merkbare verlies aan belangstelling in dinge wat hulle voorheen geniet het. Groot veranderinge soos verhuising kan by sommige kinders beduidende aanpassingsprobleme veroorsaak; wanneer dit die daaglikse lewe inmeng, is professionele ondersteuning gepas.
Vlerke beteken nie kinders moet leer om niks te mis nie. Vlerke beteken dat hulle kan ontdek, groei en verander terwyl hulle steeds weet waar hulle veilig kan land.
Om weer ‘n gemeenskap om jou te bou wanneer jy nuut is
Wanneer jy na ’n ander land verhuis, verander baie dinge amper gelyk. Jy leer ’n nuwe omgewing ken, probeer administrasie uitsorteer, pas by ’n ander werks- of skoolkultuur aan en begin nuwe roetines bou.
Een van die dinge wat egter maklik onderskat word, is hoe lank dit neem om weer ’n deel van ‘n gemeenskap/pe te word.
By die huis het die meeste van ons reeds mense gehad wat deel van die alledaagse lewe was. Familie was naby. Vriende het jou geskiedenis geken. Daar was mense wat jy maklik kon bel vir raad, hulp, koffie of sommer net ’n gesprek.
Wanneer jy verhuis, verdwyn daardie verhoudings nie, maar die praktiese nabyheid verander. Jy moet skielik van voor af begin om die mense om jou te leer ken.
En dit gebeur selde vinnig.
Gee nuwe verhoudings tyd
Dit is maklik om na ’n paar maande te wonder waarom jy nog nie dieselfde tipe vriendskappe het as wat jy by die huis gehad het nie.
Maar daar is ’n belangrike verskil:
Daardie ou vriendskappe het waarskynlik oor jare ontstaan.
Daar was werk, skool, familie, kinders, sport, kerk, bure, verjaarsdae en honderde gewone oomblikke wat julle nader aan mekaar gebring het.
Dit is nie realisties om dieselfde diepte binne ’n paar weke in ’n nuwe land te verwag nie.
Begin daarom nie met die doel om onmiddellik jou nuwe beste vriend te vind nie.
Begin net deur jouself bekend te maak met die gesigte rondom jou/die mense wat jy gereeld raaksien.
Gaan gereeld na dieselfde plekke. Sluit by ’n kerk, sportgroep, ouergroep, klub of plaaslike gemeenskapsaktiwiteit aan. Praat met dieselfde mense wanneer jy hulle weer sien.
Die eerste gesprek hoef nêrens heen te gaan nie.
Die tweede ook nie.
Maar gereelde kontak is dikwels waar vriendskappe begin.
Moenie net wag dat ander mense jou nader nie
Wanneer jy die nuwe persoon is, kan dit voel asof almal reeds hul mense het.
Hulle het gevestigde vriendskappe, familie naby en ’n lewe wat reeds vol is.
Dit beteken nie hulle stel nie belang om jou te leer ken nie.
Soms beteken dit eenvoudig dat jy die eerste uitnodiging moet maak en iemand nooi om koffie te drink.
Nooi ’n gesin oor vir ’n eenvoudige ete of vra ’n ander ouer of julle kinders saam kan speel.
Stel voor dat julle ná kerk of sport iets gaan drinken dit hoef nie groot of formeel te wees nie.
Die doel is nie om mense te beïndruk nie. Dit is om genoeg geleenthede te skep dat ’n verhouding natuurlik kan ontwikkel.
En nie elke persoon gaan jou persoon wees nie.
Dit is ook OK..
Bou ’n lewe, nie net ’n kontaklys nie
Gemeenskap beteken meer as om mense se telefoonnommers te hê. Dit gaan daaroor om deel te begin word van die plek waar jy woon. Leer jou bure ken, as hulle te vinde is daarvoor.
Vind uit wat in jou omgewing gebeur en ondersteun plaaslike plekke. .
Raak betrokke by jou kinders se skool en as jy kan, bied jou hulp aan.
Neem deel aan iets wat gereeld plaasvind. Hoe meer van jou gewone lewe op een plek begin gebeur, hoe makliker word dit om ’n gevoel van bekendheid te ontwikkel.
Met tyd begin mense jou herken, jy herken hulle , gesprekke raak langer en die nuwe plek begin minder vreemd voel.
Kinders bou dikwels hul eie gemeenskap
Vir kinders gebeur aanpassing heel anders as vir volwassenes. Hulle leer vinnig die taal, aksent, skoolroetine en plaaslike gebruike. Hulle ontmoet maats deur skool en sport en kan lank voor hul ouers begin voel dat hulle deel is van die nuwe plek. Dit is iets om aan te moedig.
Maar dit beteken nie dat hul verbinding met Suid-Afrika, Afrikaans of familie daar hoef te verdwyn nie. Hou kontak met grootouers en familie, vertel stories en maak bekende kos.
Praat Afrikaans indien dit deel van julle gesinslewe is en vier die tradisies wat vir julle belangrik is.
Kinders wat tussen verskillende lande en kulture grootword, hoef nie te kies watter een “hulle s’n” is nie. Hulle kan leer dat meer as een plek deel van hul identiteit kan wees.
Maak seker julle praat ook met mekaar
Een van die moeiliker dele van emigrasie is dat mense in dieselfde gesin nie noodwendig teen dieselfde tempo aanpas nie. Die persoon wat werk, kan vinnig kollegas en ’n roetine kry terwyl die persoon wat meer tyd by die huis deurbring, meer geïsoleerd kan voel.
Een kind kan binne weke gelukkig wees en die ander een kan maande later steeds uit plek uit voel, veral as dit nie die eerste keer is wat so ‘n kind weer moet trek nie.
Daarom is dit belangrik om nie aan te neem dat almal dieselfde ervaring het omdat julle dieselfde trek gemaak het nie en vra gereeld hoe dit werklik gaan.
Wat geniet jy?
Wat mis en onthou jy?
Wat is nog moeilik?
Waarmee het jy hulp nodig?
Wat begin al meer bekend voel?
Hierdie gesprekke hoef nie elke probleem op te los nie. Hulle help bloot dat niemand alleen probeer aanpas nie.
Hou jou mense by die huis deel van jou lewe as hulle graag wil wees maar leef ook waar jy is
Vriende en familie in Suid-Afrika bly ’n belangrike deel van ‘n mens se lewe. Hou kontak as dit moontlik is en stuur boodskappe soos die behoefte ontstaan. Daar is heelwat dinge wat om jou gebeur wat ‘n mens graag sal wil deel.
Maak video-oproepe en vier belangrike dae saam waar julle kan maar probeer ook om ruimte skep vir verhoudings in die plek waar jy nou woon.
Daar is waarde in iemand wat jou geskiedenis ken en daar is ook waarde in iemand wat vandag naby genoeg is om saam koffie te drink, jou kind by die skool te help oplaai of by jou deur te kan aanklop. Die een hoef nie die ander te vervang nie.
Jy kan steeds diep verbind wees aan mense ver weg en terselfdertyd ’n nuwe kring wat fisies naby aan jou is, bou.
Wanneer ’n plek stadig begin bekend voel
’n Nuwe land begin gewoonlik nie soos huis voel omdat iets groot gebeur nie. Dit gebeur werklik eerder in die klein dinge. Jy weet waar om inkopies te doen. Jy ken ’n paar mense se name en jou kind het iemand om saam mee te speel.
Daar is ’n koffiewinkel waar hulle jou begin herken en jy het iemand wat jy kan bel wanneer jy raad nodig het.
Jy begin uitnodigings ontvang — en stuur self ook uitnodigings en met tyd raak die plek minder nuut en gemeenskap begin ontstaan.
Nie omdat jy vergeet het waar jy vandaan kom nie, maar omdat jy ook begin leef waar jy nou is.
Wortels en vlerke hoef nie teenoor mekaar te staan nie. Jou wortels herinner jou waar jy vandaan kom; jou vlerke help jou om ook nuwe plekke, mense en gemeenskappe deel van jou verhaal te maak.
’n Praktiese gids vir jou eerste jaar oorsee
Die tasse is uitgepak. Die paspoorte is gestempel. Die eerste foto’s is huis toe gestuur.
En dan, op ’n doodgewone weeks-oggend, besef jy: nou begin die eintlike trek.
Emigrasie gebeur nie net op die dag wat die vliegtuig opstyg nie. Dit gebeur stadig — wanneer jy vir die eerste keer by ’n vreemde dokter moet uitkom, wanneer jy nie weet watter winkel die “regte” melk verkoop nie, wanneer jou kind huis toe kom en sê niemand verstaan sy aksent nie, of wanneer jy skielik besef dat niemand in jou nuwe dorp eintlik enigeiets van jou weet nie.
Die eerste jaar gaan dus oor baie meer as administrasie, dit gaan daaroor om stadigaan ’n lewe te bou. Nie ’n perfekte lewe nie en ook nie noodwendig ’n beter lewe nie. Net ’n lewe wat weer begin voel asof dit jou eie is.
Die eerste maand: Maak eers jou voete vas
Die eerste paar weke kan maklik voel soos een lang lys van vorms, wagwoorde, nuwe reëls en onbekende mense. Jy wil alles op een slag uitsorteer omdat jy desperaat is om weer “normaal” te voel.
Jy hoef nie.
Begin by die dinge wat veiligheid en funksionaliteit skep: ’n werkende selfoon, toegang tot jou geld, vervoer, mediese sorg, jou kinders se skool of dagsorg, belangrike dokumente en ’n plek waar jou gesin aan die einde van die dag kan asemhaal.
Maar tussen al die praktiese dinge moet daar iets bekend bly.
Pak die kinders se gunsteling kombers uit. Maak die kos wat julle by die huis geëet het. Bel Ouma. Sit Afrikaanse musiek aan. Bid saam soos julle altyd gedoen het. Drink koffie uit die beker wat die trek oorleef het. Jy hoef nie jou ou lewe weg te pak om plek vir die nuwe een te maak nie.
Maand twee en drie: Bou stelsels, nie net ’n huis nie
Teen hierdie tyd begin die vakansiegevoel verdwyn. Jy weet nou waar die naaste winkel is. Jy kan waarskynlik sonder Google Maps by die skool uitkom en die vreemde muntstukke begin minder vreemd lyk.
Nou kom die tweede laag: die administrasie wat ’n langtermynlewe laat werk.
Dit is die tyd om jou plaaslike bankrekeninge, versekering, mediese dekking, rybewysvereistes, belasting, pensioen- en beleggingsake, testamente en ander finansiële strukture behoorlik na te gaan.
Vir Suid-Afrikaners is belastingverblyf veral iets wat nie op aannames gebaseer moet word nie. SARS sê uitdruklik dat emigrasie op sigself nie outomaties beteken dat iemand nie meer ’n Suid-Afrikaanse belastinginwoner is nie. Belastingverblyf word volgens die persoon se werklike omstandighede bepaal, en die staking daarvan kan ook belastinggevolge — onder andere ’n geagte vervreemding van sekere bates vir kapitaalwinsbelasting — hê. Indien iemand wel ophou om ’n Suid-Afrikaanse belastinginwoner te wees, moet SARS daarvan in kennis gestel word.
Dit is dus een van daardie gebiede waar goeie professionele advies baie goedkoper kan wees as ’n fout wat jare later ontdek word.
Maand vier tot ses: Wanneer die nuutheid begin stil raak
Hier gebeur iets waarvoor ’n mens nie altyd voorberei word nie. Die kartondose is weg, die nuwe werk is nie meer nuut nie en mense by die huis vra minder gereeld: “Hoe gaan dit daar?”
En juis nou kan heimwee harder begin praat maar dit beteken nie die trek was ’n fout nie.
’n Mens kan dankbaar wees vir die nuwe lewe en terselfdertyd verlang na die oue. Jy kan lief wees vir jou nuwe land en jou hart steeds laat ruk wanneer iemand Afrikaans in ’n winkel praat. Jy kan weet waarom julle getrek het en tog wens jy kon net vir ’n Sondagmiddag by jou mense instap.
Daardie twee waarhede kanselleer mekaar nie uit nie en dit is ’n tema wat sterk deur die Wortels & Vlerke-stories loop: Celeste praat oor die dinge wat mense by die huis nie altyd sien nie; Erica oor hoe “huis” uiteindelik meer oor mense as ’n adres gaan.
Hier begin jou nuwe lewe minder oor administrasie en meer oor verbinding gaan.
Gaan terug na dieselfde koffiewinkel. Sluit by iets aan. Leer die ander ouer langs die sportveld se naam. Aanvaar ’n uitnodiging selfs al voel jy moeg. Nooi iemand vir koffie voordat julle beste vriende is. ’n Gemeenskap verskyn selde volledig op jou voorstoep. Jy moet dit doelbewus bou, een klein ontmoeting op ’n slag.
Maand sewe tot nege: Gee aandag aan wat onder die oppervlak gebeur
Teen hierdie tyd behoort jy nie net te vra: “Is ons gevestig?” nie. Vra eerder: Hoe gaan dit werklik met ons?
Emigrasie gebeur nie dieselfde met elke persoon in ’n gesin nie. Die een maat kan floreer terwyl die ander een sukkel. Een kind kan binne ’n maand maats hê terwyl ’n broer of suster steeds na die vorige skool verlang en uit plek uit voel.
Dit is nie ’n kompetisie oor wie die beste aangepas het nie so maak plek vir gesprekke wat nie oplossings nodig het nie.
Wat mis jy?
Wat is nou makliker as drie maande gelede?
Wat voel nog vreemd?
Wat het jou verras?
Waar voel jy al ’n bietjie tuis?
Vir kinders is voorspelbaarheid besonder waardevol tydens groot verandering. Kinderwelstand-bronne beklemtoon dat verhuising en skoolverandering betekenisvolle stresfaktore kan wees, en dat roetine, voorbereiding en oop gesprekke kinders kan help om verandering te hanteer.
En vir die volwassenes? Praat ook.
Celeste se storie herinner juis daaraan dat migrasie druk op ’n verhouding kan plaas wanneer albei mense probeer oorleef maar nie meer vir mekaar sê wat binne hulle aangaan nie. Moenie wag totdat stilte die taal van die huis word nie.
Maand tien tot twaalf: Kyk terug voordat jy vorentoe jaag
’n Jaar.
Daardie woord het voor die trek waarskynlik ongelooflik lank geklink en nou is julle hier.
Moenie net vra hoeveel julle bereik het nie. Kyk na wat julle geleer het. Dalk praat jou kind nou twee tale.
Die eerste jaar is nie ’n sperdatum vir behoort nie en daar is geen dag waarop iemand ’n stempel in jou paspoort sit wat sê: “Aanpassing voltooi.” Gee jouself toestemming om steeds tussen wêrelde te leef.
‘N Voorgestelde eerstejaar-kontrolelys
Paspoorte, verblyfpermitte en belangrike dokumente veilig gestoor en digitaal gerugsteun
Plaaslike bank-, selfoon- en betalingsdienste ingerig
Mediese dekking, dokter, tandarts en noodnommers vasgestel
Kinders se skool, dagsorg en belangrike kontakte bevestig
Plaaslike vervoer en rybewysvereistes nagegaan
Begroting aangepas volgens die werklike lewenskoste
Suid-Afrikaanse én plaaslike belastingposisie professioneel nagegaan
Testamente, begunstigdes, pensioen en versekering hersien
Kontakbesonderhede van die naaste SA diplomatieke missie gestoor
’n Roetine geskep wat vir julle gesin bekend en veilig voel
Begin om doelbewus plaaslike verhoudings te bou
’n Plan gemaak om betekenisvolle bande met mense in Suid-Afrika te behou
Afrikaanse taal, stories en tradisies doelbewus deel van die huis gehou indien dit vir julle belangrik is
Na ses en twaalf maande as gesin ingecheck: Hoe gaan dit regtig met ons?
Die doel is nie dat alles ná twaalf maande afgehandel moet wees nie maar dat wanneer jy terugkyk, jy klein tekens kan sien van iets wat besig is om wortel te skiet. Jy hoef nie te kies tussen jou wortels en jou vlerke nie. Jy mag albei saamneem.
Wortels & Vlerke is ’n Afrikaanse podcast oor emigrasie, identiteit, familie, geloof, verandering en die vraag wat baie van ons op ’n stadium vra: Waar is huis nou?
Ons gesels eerlik oor die mooi én moeilike dele van ’n lewe tussen wêrelde — die mense wat ons agterlaat, die nuwe gemeenskappe wat ons bou, kinders wat tussen kulture grootword, huwelike en loopbane wat verander, en die wortels wat ons saamneem waar ons ook al gaan.
Koester Jou wortels. Vetrou Jou vlerke